Salajwe Botswana




Was jy al ‘n entjie op in Afrika? Ek bedoel nie na ‘n fancy lodge of ‘n catered glamping ondervinding nie. Ek bedoel Afrika. ‘n Klein dorpie in die middel van nêrens. Tussen die mense en die donkies en die Afrikana honde. Was jy al dáár? Afrika.

Ons wil 9:00 op die grenspos wees. Karpapiere en paspoorte is reg. Honde is ingecheck by die honde hotel. Wa is gelaai. Die watertenk is vol. Ons is reg. Is ons? Die afwagting hang in die kar. 

Ek wonder in retrospek wat die kinders se verwagting was. Mens kan net raai hoe die prentjie gelyk het in hulle koppe vooraf. Hulle het darem al Voetspore gekyk. 

Ons ontdek ‘n Vida op Zeerust. Saam met die toilette waar mens R2 moet betaal om in te gaan. Ek is opgewonde oor my koffie! Ons ontmoet die res van die toergroep. Die kinders hardloop heen en weer en praat van musiek op fone en spelers. Reghardt se gebreekte arm hang in ‘n sling. Die seuns skop-skop na klippe. Almal glimlag. 

Teen 9:00 is ons op die grens. Dis ‘n grootskaalse fotonemery en die luidrugtige kinders wil-wil die tydelike gebou oorneem aan die Botswana kant. Gelukkig ontdek hulle weer gruisklippe buite en hierdie rondte krap die girls prentjies op die kant van die sypaadjie. 4 seuns. 4 girls en Simon. Simon is amper 4. 

Ons is in!! Ons het ‘n walky-talky vir die voorste en agterste karre en ons ry soos ‘n wafferse Voetspore konfooi op in Afrika. Net vir so 10minute. Toe moet ons begin kruideniers optel. 19 mense eet baie in 7 dae. Dit neem omtrent die hele res van die oggend. En teen 14:00 begin sommiges kriewel vir die pad wat nog voorlê. Uiteindelik is ons oppad. Die R2 piepie plekke het plekgemaak vir 2 Pula piepieplekke en ons het later tissues nodig want daar is nie meer toiletpapier nie. 

Teen laatmiddag begin die potholes meer word as wat daar pad oor is en teen amper skemer tref ons die grondpad. Dit moes onlangs gereën het want hier en daar is poele wat amper by die Wildekus kan kers vashou. Maar hierdie keer skrik ons nie. Dit word al meer sanderig. ‘n Witterige sand. Hier en daar ‘n donkie of bees in die pad. Die geskud en rammel hou aan en aan en aan. Daar is geen beskawing in sig nie. Teen regtig skemer kom ons aan in die dorpie. Salajwe. ‘n Man stop ons om te hoor of ons toeriste is wat deurgaan na die Nasionale Park daar naby. Blykbaar is Salajwe die laaste dorpie voor die Park. Verbaas kyk hy ons aan toe ons sê ons kom hierheen. Die mooiste geel blommetjies is die wêreld vol so saam met die wit sand. Last stop pub en dan regs is hoe die aanwysings omtrent is. Ons bekwame toerleier Servaas het ‘n GPS. So ons is ok...

Ons soek die kerk. Dit neem ‘n rukkie en uiteindelik het ons dit. Oi. Die fotos het ‘n vlakte sand gewys met een of twee bome. Een geboutjie met ‘n stort en toilet. Ek het selfs die strandtent ingepak vir die Barbies om in te speel. 

Ons nuwe tuiste is langs ‘n gebou wat lyk soos ‘n reghoekige huis wat lanklaas ‘n laag verf gekry het. Mense sit op die stoep. Baie bome. Graspolle en geel blommetjie plante hier en daar. Mens weet nie eintlik waar jou tent nou moet inpas nie. Ek sien die yoyo tenk en dink toemaar dit sal oraait wees. Die manne beraam ‘n plan en net daar tussen pol en een of ander sinkkonkoksie met bakstene en dorings agter dit, slaan ons kamp op. Teen dié tyd hoop ek net ek het niemand wil piepie ooit weer vir die volgende 7 dae nie want dit lyk nie vir my of daar ‘n plan is nie. Ons het kos en ‘n tent en ‘n bed en ons het die stoepmense ontmoet. Hulle bly nie daar nie, sê hulle. Hulle het ons kom verwelkom. Hulle is hartlik en skud hand. 

Binne die huis is ‘n kombuis met geroeste stoof storie, tafels, ‘n bank wat ‘n dekade gelede gestoffeer was en ‘n badkamer. “No water”, sê hulle. “There is no water.” Ok. Troepe, geen gepiepie nóú nie. 

Ons tenk vat baie water sê Stephan. Ons kan net die toilet spoel daarmee. Nina sê sy wil regtig nie piepie weer nie. Ons kry gehawende emmers en skottels en almal probeer net ‘n noodgevalle die toilet benader. Ek sit maar ‘n botteltjie sanitizer op die wasbak se rand. Vir wat dit werd is. 

Ons ontdek ‘n longdrop onder in die erf met groen skadunet toegespan. Rehan wys my dat daar goeie loergate is na die persoon binnekant. Ek besluit toe net daar dat dié plek ‘n veiligheidsrisiko is. Daar is nog ‘n badkamer. Ook ‘n gebou wat verf nodig het. Psalm 121 staan op die kant. “No water” maar ‘n stort aan een kant en ‘n toilet by die deur langsaan. Dit het sementvloere maar ons

kry die helfte van die toiletsitplek buite in die gras. Mens weet nie waar jy moet vat of los nie. En hoop maar dis modderstrepe op die muur.

Wipes dames en here. Wipes. Die wipes raak minder teen ‘n stink spoed sê my vriendin wie se gesin se toiletpapier ook nat geword het oppad hierheen. Iets het gelek. 

Die nag se stilte word onderbreek deur een of ander absurde donkie wat nie weet wanneer die son skyn nie. Herhaaldelik. Hoender en donkies wat seker nie hul bulk of kraai in die dag opgebruik het nie gaan groot deur die nag. Ons kruip so stuk-stuk uit die tente die volgende more. Almal is gewipe en die huis se toilet is gespoel met die baie water in die tenk onder ons wa. Die tenk wat nie ‘n gauge op het nie. 

Ons (s)tap in geloof. Walking in the light.

Vanmore kom hulle ons haal want ons moet die chief ontmoet. Ons moet “long hands” aanhê en skirts wat sy wys so by die enkels moet hang. En ‘n hoofbedekking dames. Dis seker diep in die laat twintig grade as ons begin aanstap. Teen die derde kopbedekking het ek gesien almal het ‘n hoed op eerder so my strandhoed sal doen. ‘n Serp is my long hands en dis wragtag my Las Vegas romp wat aan is. Plakkies. Dieselfde ou ipanemas wat gly-gly die walle af is in die wildekus betree die sandstrate van Salajwe. Vir so paar tree. Oi. Dorings. Nie die dubbeltjie soort nie. Daai langerige soort wat deur ‘n plakkie gaan of selfs kantlangs sy weg baan. Ons kruie saam met ons gids die strate in. Arme Simon gooi op langs die pad. Hy herstel darem vinnig en ons hoop maar hy is net ontsteld. Want die kinders stry oor wie voor moet loop. Die stoele word uitgedra en ons groet die chief heel seremonieel. Ons doen ‘n gebed en hoor toe dis die “klein chief”. Ons moet ook gaan na die “big chief”. Die grade klim maar doring-langs stap ons aan. By die big chief is daar baie stoele uitgepak. Die man is baie vriendelik en na ons verwelkom is, vra ons of ons kan bid vir hom. Hy groet ons elkeen met die hand en herhaal ons name. “Reghardt” was bietjie moeilik. Ons is welkom om na die dam te gaan en ons is welkom om fotos saam met die big chief te neem. Dié mense is hartlik! 

Skool toe. Arme Simon begin nou al moeg word maar die ander kinders gaan nog sterk aan. Dis seker oor hulle nie long hands aanhet nie. Die skoolkinders se monde hang oop. Dit lyk soos ‘n heininglose dieretuin na albei kante. Aan die een kant staan die swart skoolkinders met wit skoolhempde en ligblou truie met groot oë en staar na ons. Op die trappe staan ons met ons mooi-moois en warm rooi wange en kyk na hulle. Niemand verstaan mekaar nie. So gemanierd. So gehoorsaam. Hulle reageer op een woord van die juffrou. Die skool vertel ons van probleme met swartborde wat afdop en gebreekte fotostaatmasjiene. Trotse hardwerkende mense wat hulle beste gee. Die visie en missie van die skool staan op die muur vasgeplak. My hart begin ‘n desperaatheid voel om iets te doen vir hulle. Groot afwagting op hulle gesigte. 

Die middag ontdek van die skoolkinders waar ons bly. O mang?, begin ek diep delf in my Sepedi kennis. Ke Elsa. Ke Mashego. Ke Dima. Ke Mahlo (aka Mr Eyes). Ke Henri. Ke Lisa. Ke Hannah. Ke a Leboga. Meer en meer word hulle. Anine en Emily leer hulle om rubber armbandjies te maak. Geen taal nodig vir dit nie. Hulle wil net asseblief aan die girls se lang hare vat. Reghardt se arm kom uit die sling en Hanre en Reghardt se krieketdemonstrasie begin. Later is ‘n volskaalse krieketwedstryd aan die gang. So doring-doring gaan hulle aan. Hulle begin cheer en kry die bal geslaan sonder dat hulle weet wat krieket is. 


Ek koop summier groot bottels coke by die winkel. Almal is af van water af, van nou af net coke. “Jay” sê al die kinders. Die “leaders” probeer help met die waterkrises. Hulle kry ‘n tenk van soorte geleen. Ons ouens ry met blou kanne wat ingerol word in die Everest en gaan tap by iemand se boorgat. Simon gaan saam en jaag hoenders.

Die hele dorp ken later hierdie oulike seuntjie! Ek sien later ‘n halo om Oom Jaap se kop soos hy met ‘n pomp en pype stoei om water gepomp te kry in ‘n donkie en teen sononder kan ons stort. Die toilette is met “The Strong One” ontsmet so goed soos mens kan en word met ‘n gebleikte emmer volgegooi maar dis skielik hemels. 

Die volgende oggend vroeg is die kinders weer daar. Tannie Liezl leer hulle van Noag en ‘n tydlose ewigheid en dat ons Jesus moet kies. Ons kinders speel hoofrolle en voel baie belangrik. Die plaaslike kinders sing dat ons ore sing. My worship medley steek sleg af maar ons probeer met ‘n speaker ‘n paar Engelse liedjies opdis. Ons kinders is die dans span. NIKS kom by die plaaslike mense se worship nie. Wit tande en groot glimlagte. Diep stemme wat die sinkdak laat laag klink. Een van hulle sit net in en dan volg ‘n koor met vol stemme. Ek het nog nie so iets vantevore beleef nie. Joy like a fountain! 

Die manne begin Bybelstudies op die stoep. Elke oggend word die blou kanne ingerol in die karre se kattebakke. Water. Paasfees. Dis vakansiedae met musiek van die shebeen tot net na middernag. Oorverdowend. Die res van die nagte word gevul met geluide van verwarde donkies wat dag en nag omgeruil het. Hoenders. Donkies.
Daar gaan ‘n Easter convention wees. Ons wonder wat wag op ons....die mense bring die grootste driepoot potte wat ek nog gesien het. Papatas is ‘n pita tipe broodjie wat op die vuur gemaak word. Ons sny kool en wortel. Pap. In die aand speel ons kids lanternbekruip om die gebou. Die manne begin preek en ons wys vir hulle die Jesus film in hulle taal. Die projektor kom bo-op ‘n icepack te staan want anders oorverhit die ding en laat die manne sweet. 

Ek kry wragtag maaggriep een nag. Seker die tenk se skottelgoedwater. Of wie weet. Minder pret op en af met die leertjie en ‘n gespoel met die emmertjie. Ek lê die volgende dag en wonder of ek ooit weer Pretoria sal sien. Neuse loop maar ons gaan aan. 

Die dorpie geniet die “movies”, hulle doen “intercession” voor die kerkdiens begin en so paar van hulle klink soos ‘n hele “It’s time” geleentheid so hard bid hulle. Skrif. Selfs die klein kindertjies ken “memory verses”. Hulle ken vir Jesus. Hulle aanbid Hom. Hulle sing en dans en glimlag.






Hulle lag en dans saam agter die donkiekar aan waarop ons dam toe ry. Al die seuns gooi saam klippe in die dam. Almal lag en sing. Hulle tree op vir ons in kore. Toe dit ons beurt is, het Servaas genadiglik ‘n kitaar en ons staan baie naby mekaar om te probeer om meer volume van êrens af te kry. Strenght in numbers maats. “Hosanna” sing ons. Ek is nie ‘n stapsoldaatjie nie. 

Die laaste aand speel die kinders tot lank na donker ‘n tipe vroteier speletjie. Iemand sing en hardloop om die kring. Daar kom elke keer ‘n Tswana kind om agter een van ons outjies aan te draf om namens hulle te “sing”. Hulle spring op mekaar se rûe in ‘n musical chairs tipe speletjie. Hulle kyk uit vir mekaar. Wit. Swart. Klein. Groot. “Ek voel nie meer die dorings nie Mamma”, sê Theo. Ek voel ook nie meer die dorings nie my seun. 

Die laaste oggend sit Nina tussen al die kinders. Sy wil nie die maatjie laat gaan nie. Die kind bring ‘n vuil houtbordjie vir Nina. Agterop staan “God is good”. “I will miss you my friend”, sê my nuwe vriendin. Hulle bring vir oulaas skottels papatas en nooi ons vir ete. Die kinders sing vir ons en ek en Nina huil. 

I’m walking in the light of God.

Re tsamaya lesedi la Modimo.

“I will miss you my friend” 

En ek vra weer vir jou....wás jy al by ‘n klein kerkie in Afrika?



Comments