Wildekus Des 2022

 ‘n dag in 2022

Was jy al na ‘n nuwe plek oppad? Die Internet advertensie noem ‘n lang lys aktiwiteite om te doen, watervalle, pragtige natuurskoon....

Daar staan erens in ‘n beskrywing dat dele van die pad modderig kan raak as dit reën. Grondpad. Verstaanbaar. Moenie in die donker probeer ry nie. Verstaanbaar. Ekt gedink die donker verwys na die tyd van die dag. In retrospek dink dit verwys na die kleur van die modder. 

Ons ry sodat ons teen middagete begin op die grondpad. Dit reën. Dit moes gister en eergister ook gereën het. Miskien ook die dag daarvoor én die dag dáárvoor. Die pad lyk nie te erg nie merk Stephan op. Dit raak bietjie langer stukke modder. Die modder raak dieper. Daar is poele en ompaaie gery aan die kant van die poele. Die ompaaie is ook nou vol modder. En poele. En wielspore teen platgespinde gras. 

Ons word stiller.

Ek hou die handvatsel styf vas. En lees herhaaldelik die padaanwysings op die papier voor my. Ons trek by stap 3. Ek begin voel hoeveel blaaie die dokument dan nou het. Tot by stap 10. By stap 10 staan daar....ry tot die pad ophou en stap verder tot by die kampterrein. Kampterrein? Ek dog dis ‘n lodge. Die Ford begin gly. Dis omdat die modder nou dik swart goe is. Is dít donker Afrika? Die sleepwa is nou gekamofleer. Die difflock is reeds aan né. Hoeveel meer was die 4x4 nou weer? 

Stap 4. Ons kry ‘n laaaang stuk modder. Dit lyk soos ‘n landery. Diep lang swart groewe. Mens moet net jou spoed konstant hou. Né? Die Ford brul. Dit spin bietjie. Daar staan ‘n rooi karretjie wat lyk of iemand lank reeds vasgesit en laat spaander het. Die Ford en sleepwa begin in ‘n egalige gly-aksie gly soos ‘n slalom skiër op die rivier in witbankdam. Dit gly. En gly. Die rooi karretjie staan bankvas. Direk in die gly-trajek van ‘n Everest. Én ‘n sleepwa. Trots Suid-Afrikaans. 

Die kinders luister musiek. Elkeen het ‘n ipod of Nina het ‘n pandabeer- musiekspelertjie wat ons Ouma uit China laat invoer het. 

Dis stil in die kar.

Die padaanwysings is nou snaaks gevou in my een klou en die Everest se handvatsel begin los raak. 

Ons het traksie gekry op een of ander graspol aan die kant van die pad net agter die rooi karretjie waar ons die wal geslaan het. En die Ford beur voort. Daar is nie tyd vir koffie nie. Stap 5. 

Ek sien ons trek by 16.5km en ons moet gaan tot by 32. 32,4km se dit. Daar waar die pad eindig mos. By die kampterrein. Ek dog dis ‘n lodge? 

Mens kan nie omdraai in donker Afrika nie. Mens spin voort. Elke paar meter stuur ek weer vir Ouma ‘n whatsapp met die aantal kms oor. Ek begin wonder wie sal begin stap aan die 17km wat oorbly. En wie sal wag by die Ford. Die kindertjies waai vriendelik langs die modder. Sweeties! Sweeties! Die mense het huisies of hutte met ‘n geut en ‘n jo-jo tenk. Koeie. Boerbokke en wasgoed hier en daar wat hang in die reën. Huisies wat net hier.....en daaaaaar is, het klein sonpaneeltjies op. Steph sê dis seker vir ‘n radio. Hoe het hulle die stene hier gekry wonder ek? 


Die pad verbeter. Donker Afrika modder gee plek vir ‘n ligter tipe klipgrond affere. Ons hop-hop oor berge en in dale. Driffies lê vol water maar die kliprante gee mens hoop en laat mens bietjie vet gee as jy die water tref. Die snaakse geluid wat die sleepwa se wiele netnou gemaak het, hou op. Steph sê die modder het seker bietjie uitgespoel. 

Hy begin almal waarsku dat ons maar sal moet kyk wat nog nie gebreek is nie as ons arriveer uiteindelik. 

Die arme handvatsel. 

Dan is Google maps ook weg. En ons ry met die pad wat sal ophou as die pad ophou daar waar mens verder moet stap by die kampterrein. 

Hoop beskaam nie. En ons arriveer by ander karre netjies gemodder in ‘n ry. Steph sê hulle het seker vroeër hier aangekom want hulle karre lyk nie soos ons s’n nie. Die waentjie se bo-oor-wiel-afdakkie-ding lyk soos chocolate fountains. Wie’t geweet donker Afrika kan só loop? 


Dis wit-grys sproete van klippe op die randjies. Geel veldblommetjies op die groenste graswalle. Onder lê die wit van die branders teen die rotssoom van die kuslyn. 

Ons sluit oop. O ja, ekt mos in Cellini tasse gepak. 5 van hulle. Kersgeskenkies was toegedraai in wit en rooi feespapier wat nou stukkend op die hoeke is. Die toolbox get oopgeskiet so daar lê moere en goed tussen die tasse maar ons het eintlik nie skade nie?! Seker oor ek als stofdig pak? Elke ou gryp sy cellini....mét wiele...

En sy kussing. Caroline het nuwe slopies opgesit vir die vakansie. Dis gaaf. 

Ek gryp ‘n flits en ‘n bottel tonic en die medisynetas ook. Die koffiefles moet bly. Desperate times. 

Die “paadjie” is eintlik net ‘n modderklipsnotspul. Ek kry net twee verskillende plakkies bo uit Reghardt se tas. Darem een vir elke voet. Ons gly-klip by die bult af met die tas aan die handvatsel geklem. Van onder af kom ‘n kaalbolyf surfer aan wat ons oopmond aangaap. “What are you doing here?”, vra hy die vraag wat al vir twee ure op my lippe lê. 

Hy bied so ewe aan om my tas te vat...”yes please”. 

My ipanemas gly teen die bult af.


Onder split die pad. Na regs is ‘n tipe oerwoud “kampterrein”...mens sien mos nie veel tussen daai piesangbosse nie. Links dip die pad in ‘n meer-modderagtigheid in en dan kom jy by ‘n stroompie waar jy moet oor. Ek vat een van die kinders se tasse. Ekt ‘n netjiese “vanity bag” ook. 

Nee hel. Stephan sal spioene vat en gaan kyk. Ek staan soos in San Francisco met 6 tasse, 4 kussings, ‘n medisyne tas en ‘n vanity bag. ‘n Swaar een. 

Terwyl ek soos “Wilson” die bal van daai akteur ou wat op die eiland gestrand was, wag by die tasse, gaan die spioene. Die eerste kussing val. Darem ‘n rooierige slopie. Nou ook donker Afrika. Die kind val. Die tas tref darem ook ‘n graswal.

Daar kom ‘n bakkie aan. Uit die piesangbosse want wragtie weet ek nie waar ‘n pad is nie. Nog ‘n hemplose kom verby en staar na my. “You must be coming to the lodge?” 

Die woord lodge klink soos musiek in my ore. “Yes-yes!” Sê ek. Dan kom die woorde....

“That is the right way”....just be careful over the water, its slippery” 

You must be kidding sê ek saggies in my kop. Ek smile. Mens vloek nie hardop nie. Die bakkie het net 3 wiele op ‘n slag op die grond. Dis hoe die “pad” is....ek dink nie mens moet dit ‘n pad noem nie. 

Maar nietemin. Nou dat ek weet dis die regte rigting tel ek my cellini op én my sanity (ek bedoel vanity) en ek gaan. Ipanemas gly-gly. Die spioene kom terug. 

Dis mooi! 

Met hernude moed klim ek oor die bokdrolle met my pakkaas. 

Ek kom bo. Die lodge het houthuisies op pale. “Less environmental impact”...

Ons s’n is die mees afgeleë een. Die “walkway” gaan twee meter verder tot by ons s’n. Die cellini’s sien die deur en voel verlig. Amper so verlig soos die manne wat die plek bestuur. 

Die bruin water spoeg in ‘n eens mooi wasbak dat mens jou tande kan borsel net so langs die walkway. Jy hoop net die ou in cabin 3 maak nie sy deur oop nes jy spoeg nie. 

Die toilette is unisex. Drie van hulle. Die gelamineerde poster wys ‘n brandsiek brakkie wat verpleeg word en sê mens kan by die “reception” navraag doen oor hoe om by te dra tot die projek. Ek wonder of die poster se hoek reeds bruin was voor hulle dit gelamineer het of hoe kry mens dit so? 

Daar is koffie. En Engelse surfer seuns. ‘n meisie wat sommer so halfnaak loop met ‘n nagrokkie. Baba katjies. ‘n Bar. Theo sê kliphard dat dit “vervalle” lyk. Reghardt vra kliphard “wat beteken vervalle?” voor ek tot die dialoog kan intree. 

Mens voel altyd beter na ‘n stort. ‘n ecostort. Wat beteken dit? Mag mens nie seep gebruik nie? HIER sal jy aanvaar word. Ekt nie gesien of dit ‘n nudiste strand is nie, maar eks seker hulle weet erens van so ‘n plekkie...? Hy kan ‘n “massage lady” vir my reël as ek wil. 

Die boerbok blêr skuins agter my asof iets in sy keel vassit. Dan maak die kinders hom na vir nog so ruk. 

Maar die Internet het nie gejok nie, dis beeldskoon hier, absoluut ongerep, met watervalle blykbaar (ons was nog nie daar nie) en BAIE om te doen. Dis net ons en ‘n paar boerbokke op die strand. Net so km ver se stap. Die riviermonding is nader maar daar is blykbaar haaie so ons het maar anderkant toe gestap. 

Mense is gasvry. Hulle het selfs glutenfree brood vir my. Vra of ons lekker geslaap het. Ons voel of ons skielik in ‘n “hegte gemeenskap” woon.

In die nag gooi een van ons kids op oor die reëling. Nou is ek ook baie bly oor die “walkway”.





Comments