California roadtrip


Dagsê!

Welkom terug by die realiteit van elke dag...waar jy jou koffie eers by die werk drink want jy was laat...ek neem aan dis wanneer mense hierdie sal kry! Hoop julle Kersfees was 'n tyd naby Jesus en mag 2008 vol van Sy blessings wees!

Ek wil net gou opdateer op ons vakansie. Vir meeste geharde reisigers (ek verwys graag na my x-kollega op www.skuger.com) sou ons trip met die Mazda sekerlik nie kwalifiseer as 'n "roadtrip" nie. Maar dit hang net af van mens se definisie van die term (en nou weet almal wie is besig met swottings op die oomblik).

Nietemin...ons het skuins voor Krismis besluit hierdie woonstel van ons is te klein om Steph se drie weke vakansie te regverdig en vandaar die gehuurde Mazda. Highway 1, 'n lonely planet boek en 'n tent in die boot (ag askies "the trunk of the car"). Hierdie bonnet, boot, trunk maak my deumekaar in die hood. Eerste stop Carmel valley. Net die feit dat die gerugte was dat dit warmer word hoe meer Suid jy gaan, moes ons seker vertel het dat 'n amper 3 ure van die huis af nie ver genoeg was nie! Kyk, Elsa het skoon 'n ou toebie ingepak vir die pad...dié is genuttig na die kamp opgeslaan was. Die vrou was baie vriendelik. Sy't 'n dik jassie gedra met tiervelle om die cuffs en 'n poedel op haar skoot...sê baie...

Na een die middag, was daar steeds geen son op die bodem van die woudvloer nie. Seker omdat daar nooit son is nie...nadat ons die 17-mile drive gedoen het...wat net so tussen ons sekerlik op my lysie van mooiste plekke ooit kom, het ons besef ons is te arm vir koffie by Pebble beach klubhuis en sekerlik kan mens nie meer buite jou kar (of dons-slaapsak) oorleef nie. Bietjie koud om die kiewe. Na Mike's-pizza is ons dus bed toe. Dit was ten minste minus 2 in die tent, ek weet nie watter 2 nie, want dit het geblyk die volgende oggend dat ons 2 oorleef het. Net-net. Nege uur toe die afblaasmatras, ag ekskuus opblaas, weer die woudvloer slaan, het ons te Mazda stort toe gery...en sommer daarna vir die tiervel cuffs gewaai en laat waai...

Die kus oppad af is regtig ongelooflik mooi!!! Lyk amper soos Chapman's peak maar dit hou net aan en aan en aan! Brue, robbe, kranse, uitkykpunte.

San Simeon of iets. Die ou by die hek het gedink ons is mal, want ons het onmiddellik gevra waar die warmste plek was om te kamp. "Seker in die son," het hy gesê. Die afblaasmatras is gepomp en ons na 'n kasteel van 'n mal ou genaamd William Herst. Hy het op 75 besef hy het te veel geld en toe 'n kasteel aanmekaar geflans wat iets van soveel lande as moontlik bevat. Dit was iets om te sien ek moet sê!

Die storte by hierdie plek was daardie soort wat met 'n munt werk. Uitmuntend vir party mense! Ek, natuurlik is mos effe (hie-hie) bysiende...en nadat ek die coin by 'n paar plekke probeer inwerk het, was die water klaar. Teen hierdie tyd het ons toe ook nie meer shampoo gehad nie (dit staan toe nog in Carmel valley), so met ge'lux'de hare is ons reg. Of weg. Die "trailmix" op my skoot, die tent wat nou lank nie meer in sy sakkie pas nie (die hele agter sitplek vol) en die een CD wat Stephan se Kersfeesgeskenk was is dus verder. Santa Barbara. Daar waar celebs in palmparke draf en surfers afspring voor hulle die klippe tref.

Ons het die park platgery en die mooiste spot ooit gesoek. Kon nie glo hoe gelukkig ons was nie en na ons die tent op 4 verskillende plekke gehad het om die beste view te hê, het ek begin bokse aflaai. Steph het die gasstofie aan die gang gekry en ons was reg. Vir so 2 minute? Die ou wat parkeer en afspring met sy skaaphond wou toe nie net gaan stap op die strand nie. Blykbaar kan mens die staanplekke bespreek..dus: matras af, tent af, bokse in, gasstoof af en daar gaat ons...

Ag mens kon so effe die highway hoor daar waar ons toe kamp, maar dit was ok. Mens kon so tussen die bome deur die see sien en ons het daarop gefokus. Die volgende paar dae was rustig. Solvang is 'n Deense dorpie waarby ons was (ons kon darem hier koffie bekostig), en verder het ons maar gewuif vir die skaaphond-ou as ons verby stap strand toe. Kersfees was ons op die tiekieboks soos in die ou dae, ek het my bes gedoen vir 'n Kersfees decoration...en ons het gaan ribs en chocolate mouse eet soos toe ons nog albei salarisse verdien het.

En toe is dit alweer klaar! Ons het die tent vir oulaas probeer in die sakkie kry (gaan kamp die mense wat die goed maak nooit self nie?) en met ons Mazda en ons nuwe Kersfees CD van die huis af, terug na die land van die nou "reën-druk-onderdeur die-vensters" land!

En dit het aand geword en dit het more geword en dt was ons eerste roadtrip!

Die Juice-tis

Comments