Noorde-nuus!


'n Nuusbrokkie uit Ford Stan,

Ek raak altyd deurmekaar: is "ford" met 'n "d" of 'n "t". Nie die Amerikaanse weergawe van 'n motorkar nie, maar die soort waaruit die boere kanonne ge-"operate" het. Ek dink vanoggend dis met 'n "t", fort. Anders was die meervoud mos "forde"! Ha! Ek weet verseker dis nie "vort" nie, alhoewel ek gister vir 'n oomblik of wat gewonder het of "Stan" nie dalk vort gaan wees nie. "Stanvort.."

Kyk ne, mens weet net nooit wat op jou wag nie. Ekt nog altyd gehou van berekende besluite, logiese afleidings, tyd om dinge te analiseer en te verwerk ens ens. Al die mooi dinge, maar mens weet net eenvoudig nie. Soos maaggriep. As jy weer tot verhaal kom, besef jy jy was waarlik gereed om heen te gaan. Ag ek oordryf net vir meer reaksie. Hier was bloot 'n ligte aardbewing hierdeur. 5.6 op die Richterskaal, so 25 km van ons af. Ekt gedog fort Stan gaan vort, maar soos enige goeie Kaliforniese gebou is Stanford glad nie geskok oor die skudding nie. Stephan het gelag vir my paniek om onder die lendelam tafeltjie in te kom. Teen DAARDIE tyd, jy weet nadat ek die wasgoed van die stoel afgeskuif het, die stoel uit die pad gekry het in die fiets vas, gebid het en gereed was vir die groot ondergaan, was dit lank reeds verby. 5 sekondes?

Fort Stan het homself goed van sy taak gekwyt. Al die Fords op die kampus ook "for that matter". Die Internasionale studente het effe rondgehol, niemand gee om oor al die "earthquake training" wat se dat jy DIT juis nie moet doen nie. Veg of vlug, veg of vlug. Na 5 sekondes veg jy niks meer nie, kyk dan is dit vlug se ek. Die dat 'n ford dan seker handig sou wees.

Van karre gepraat, ek en Stef skryf vrydag leerlinglisensies. Grappies...nee...Dan kan die groot soektog na die Amerikaanse Witpiet begin. Dalk eindig ons met Witford op. Als behalwe "Witvort" is ok met my!

Stef het die Suid-Afrikaanse weergawe van 'n toetsweek/ almal swot hulself mank. Hier noem hulle dit "midterm". So dis midterm dus. Donderdag is die groot dag. Wat dan nou more is ja. Ek moet seker vinniger tik, want ons deel hierdie laptop. As Stef hier uitgaan soggens tik ek dat dit skud. Ag ek vat ook heeltyd die goed te ver ne..

Ek kan ook 'n vinnige blik gee (nie skud nie) op die rugby by Fort Stan. Kyk hier, die mense dink ek en Stef is al 5 jaar hier gevestig, so goed het ons 'n braai gereel..Stef het aangebied om die skerm en laptop ens op te stel vir die finaal laas saterdag. Dan weet ons mos ons kan verseker die finaal beleef. Dis nou als by so Internasionale sentrum op kampus. Die vrou van die sentrum bied toe selfs aan om vir ons bietjie fondse beskikbaar te stel vir 'n Suid-Afrikaanse braai. En dis hoe als begin het. Stephan het 'n ou opgespoor wat iets naastenby soos boerewors maak, Elsa het haar ma gekontak vir die wenresep aartappelslaai. Kyk, braaibroodjies, melktert, papierbordjies...ons was reg hoor! Die manne het selfs Castle gehad vir om die vuur. Als goed en mooi. En dit het aand geword en dit het more geword. Een klein ou detailtjie het mnr en mev gasvrou oor 'n 100 gemis...ons het nie besef die "brunch will be provided" advertensie het die hele Suid-van-San-Francisco vol oor die Internet versprei nie. Tegnologie is 'n wonderlike ding!

Die uiteinde was 100 mense...van heinde en verre...ons het nie gedink dis baie snaaks nie. Kyk, my bene kan net SO vinnig winkel toe vir nog brood...fiets mense, fiets. Dus, daar was mense van regoor die wereld. Rugbyliefhebbers met 'n stukkie wors in die hand so groot soos 'n kwart vienna, saam met twee slukkies Castle. Die melktert het groot opskudding veroorsaak. Ek weet nie wie is almal bekend met die Kruger Wildtuin se spreeus nie. Daardie wat by die piekniekplekke rondhang...nou ja! Met daardie prentjie vars in die geheue, was dit dan identies hoe dit gelyk as mens net gou ietsie in die kar gaan kry en jou piekniekplekkie met borde vol broodkrummels en dies meer agterlaat. Klaar...

Dit word herfs hier...herfs is mooi hoor. Ekt nog nooit so gedink nie, maar dis net rooi en oranje en geel bome met nuwe groen grassies na die reen! Baie mooi!!
'n Nat fiets, nie so mooi! Maar ja, die Joostes doen goed. Soos ek se "mnr en mev gasvrou". Kyk, nou kan julle maar almal gelyk ook kom kuier!!

Groetnis uit die fort..
Juiced!

Comments