Napa-Tahoe trippie

..en na hierdie "complimentary poster" van die Gundlach wynplaas het die Junior Jooste-gesinnetjie besluit om hulle goed te vat en trek Ferrêra (wie's getrek?). Ek moet darem bysê dat dit die laaste wynplaas op die beplande roete was. Wat daarna gebeur het was als onbeplan...

Van onbeplan gepraat...by ons selgroep hierdie week het Stephan net weer herbevestig of hy die ou oorkant ons se naam reggehoor het. Ek moet hom krediet gee, "Perfecto" is nie 'n algemene naam nie. So met dié lê Stephan toe oor soos 'n wafferse Stanford professor en vra "I just want to make sure, your name is Maximo hey?". "Hey," vra die ou? En ek breek my. Darem voel die ou toe nie té geaffrontteerd nie.

Ten minste kan ek in dieselfde asem sê dat ek ook terloops agtergekom het die vakansie dat die woord "XING" wat AANMEKAAR op die Amerikaanse paaie geverf is, nie een of ander Mexikaanse woord vir STOP is soos wat Elsa vermoed het nie, maar wel dan "CROSSING".

Soos afgelei uit die bogenoemde, was die Joostes met vakansie! Jip, ons het ons navy blou kar - wat blykbaar lyk soos iets uit 'n "soccer-mom" legende - gepak en laat waai! Skipskop, skipskop. Stephan reken ons kar bestuur alte gemaklik. Elsa meen die kar voel bietjie soos 'n statige skip. So bietjie "statig" as mens wegtrek. Ek dink Stephan is bly dat sy vrou dit sê. Een onderonsie met die Amerikaanse polisie is genoeg vir een vakansie!

Soos dié van julle wat gereeld roadtrips onderneem sal weet, 'n badkamer is NIE DAAR wanneer mens hom benodig nie. En bygesê in California staan daar amper net so gereeld soos die XING borde, borde wat sê "$1000 fine for littering". (Ek weet nie of piepie onder "littering" val nie, maar jene, kan jy jou indink as die "highway patrol" al flitsende sou besluit dit is...dan sien jy 'n dame deur die modder ploeg soos net 'n onervare sneeuskiër kan snowplough). Ek kan myself natuurlik in die sneeuskiër kategorie ook voorstel..."blou".."blou"..."blou"...

So terug by die verhaal...die badkamers was gesluit en ons het toe sommer in dieselfde toé "vinnige" stappie die dorpie van Old Sacramento verken. Dit het gevoel soos Gold Reef City. Oral baie duur winkeltjies wat 'n redelike soms-interessante klomp nonsens verkoop. Wat sê jy van kaggel? In dié proses hardloop ons parkeermeter toe uit tyd uit (seker in simpatie met sekere mense se blaaskapasiteit)...darem net $25. Gelukkig het die lekker kuiertjie by my goeie laerskoolvriendin daar naby gehelp. Facebook, jou doring! (..in wie se vlees?).

Van snowplough kan ek altyd 'n redelike hoeveelheid sê. My vyf-dag ski uitstappie uit my Bridget Jones era het ver terug in die verlede gelê. En as mens nog nie lank getroud is nie, wil mens mos darem af-en-toe jou man beïndruk. Dié dat ek toe met selfvertroue soos 'n Stanford professor die slopes by Lake Tahoe betree. "Perfecto".

..ai..

Die $2 ontbyt wat ons by die Casino langs ons Motel opgespoor en weggesit het, het nie veel gehelp nie. Op die baby slopes is daar mos nie veel van 'n helling nie. En 'n helling help mens om makliker op te staan as jy ploeg. En 'n BAIE VOL maag help ook nie (ek sal bieg...ek het 3 eiers, 'n worsie, 'n hoop aartappel, 'n toast met maalvleis en koffie ingewerk)! My snowboard man was twee keer by my verby voor ek die onderkant van die baby slope die eerste keer gesien het. Of liewers "gevoel het".

Darem het die kos (en my ego) begin uitwerk en het die ski-poging by Tahoe heel gaaf uitgedraai!

Napa vallei was die navy kar se volgende stop. En toe was daar wyn...dit het ongelukkig begin reën ook net soos die navy skippie om die vallei se draai kom. Gelukkig hoef mens net by een plaas wyn te proe dan voel die lewe lig en vrolik! Of gebeur dit net met my?? Ons het 'n wyntoer gedoen saam met goeie vriende, pizza geëet (wat erg welkom was na die Joostes se 40-dae Makers Diet) en selfs 'n klomp vuurmaakhout present gekry die aand.

En so is die skippie vir die laaste stop na Sonoma vallei...nou ja, ons sou eintlik net deurry en kyk hoe dit lyk, maar wat! Wynproe was goedkoper in daardie kontrei, so ons het besluit om een plaas te probeer. Plaas twee lyk toe ook heel aangenaam en so eindig ons al singende saam met die Soweto strykorkes op by die Gundlach Bundschu plaas op. Stephan het besluit sy vrou moet liewer of in die kar wag of net foto's neem, maar wyn kry sy nie meer nie! Nou ja, 'n halfuur later loop ons na 'n lang gesprek met die vriendelike dame...poster onder die arm...(sy het seker van ons gehou), want ons kon sommer albei van 'n heeele paar wyne proe. Stephan was heel ok, ek natuurlik ook. Lig en vrolik soos altyd!!

En so het ons vakansietjie tot 'n einde gekom! Stephan het weer nuwe "funding" gekry vir nog 'n jaar...kom direk uit die hemel! Elsa werk steeds aan haar huisvrou-skills, lyk my sy het baie tyd nodig om vordering te maak...sy stryk darem nou al in helfte van die tyd (of net die helfte so deeglik) as 6 maande terug.

Groetnis uit die land van wyn, sneeu, goedkoop Motelle en een navy skippie!
Skipskop! van julle goeie vriende..

Comments

Unknown said…
Ons is hier in San Fran! Sit die ketel aan, ons bring die koffie. Wyn is ook goed... Heck any Juice'd will do :D
Chanel