Wie skree nou vir die SHARKS?


























Altyd was ek nog 'n blou bul ondersteuner...dit het seker iets te doen met die Saterdae wat ons hele familie agter die kassie ingeskuif het en Ouma die hardste geskree het vir Uli en Naas! Ek het nooit lekker geweet wat aangaan nie, maar een ding was vas...ons cheer vir die ligbloues!

En so word ons toe kranige Sharks-ondersteuners verlede Sondag! Die San Jose Sharks is die groot yshokkie-span in ons geweste. Groot kan ek weer se! Jene, kyk een van daardie manne wil ek nie na die wedstryd agter die tennishuisie teekom nie, hulle lyk of hulle ten minste jou kar se wiele kan steel en die supporters die hele ding kan oorsprei voor jy weet wat jou getref het. Lekker mense! Maar die wedstryd was goed! Vinnig...dit het my die hele eerste derde van die game gevat net om die "puck" gevolg te kry. En gewoond te raak aan manne wat mekaar die plastiek in jaag. Die een man mos skoon verwyder word van die perseel as gevolg van harsingskudding...nie dat dit gelyk het of hy agterkom hy is nie meer op die ys nie, hulle mos net die stok uit sy hand haal, anders was die noodhulpomie in die moeilikheid.

Dit was interessant om die Amerikaners weer bietjie in aksie te sien ook. Soms lyk dit vir my of hulle hele vermaakliksheidswereld soos 'n "gameshow" is. Die elektroniese borde lyk "flashy" en se presies vir jou wanneer jy moet skree, wanneer jy moet opstaan, wanneer jy moet wat stilsit, hoe ver vorentoe jy mag leun...voel vir my bietjie te ver gevat, maar wat! Ek het gedink aan hoe anders Suid-Afrikaners is. Bulhorings op die kop, biertuine en manne met nartjies wat vlae hoog laat wapper op gelee en ongelee tye...dalk dink party mense ook dit is bietjie te ver gevat! Maar ek voel definitief meer tuis met 'n blou vlag op Loftus!

Die span se "mascott" is dan ook 'n haai natuurlik. Maar ons het besluit dit lyk eerder soos 'n kruising tussen 'n krokodil en 'n pelikaan of 'n ding. En die outjie hol met 'n tamboeryn en 'n knuppel en gee die handklap pas aan. Ons het net gelag! Gelukkig het die "Sharks" gewen, ek wou nie graag die skare ongelukkig sien nie...

Comments