Soos 'n warrelwind is twee jaar verby en jy verjaar! Dit was so vreeslik vinnig en het my lewe op ten minste 'n duisend goeie maniere verander...
Jy is sonder om te oordryf vir my die oulikste klein seuntjie wat daar is op hierdie ouderdom. Jou woordeskat is ongelooflik en jou onuitputlike energie en nuuskierigheid oor wat als is en hoe dinge in die wereld werk verstom my....
Jou gunsteling speelgoed is stootskrapers, gereedskap, veral Pappa s'n wat nie plastiek namaaksels is nie, puzzles, klei, dublo blokkies en 'n pen en papier. O ja, en nadat ons jou en boetie se klimraam op laat sit het, die sandput onderin. En 'n trampolien natuurlik!
Jy bou lag-lag nou 'n vierstuk puzzle en geniet jou nuwe blou skopfietsie, soos tannie Lizelle dit noem, vreeslik! Oupa en Ouma het dit hier aangebring op jou verjaardag.
Jy het so 'n mooi sagte sensitiewe hart my seunie! Ek bid dat die Here jou beskerm en my sal help om jou op 'n sagte liewe manier groot te maak. Jy raak ontsteld as boetie te veel huil of as verdwaalde klein voeltjies nie hul pad vind uit die huis nie. Op die oomblik is 'n hond ook nie vir jou snaaks nie, jy verkies om te loer as hulle agter heinings is.
Vuil word is nie lekker nie, behalwe as daar water by betrokke is! Piesangs is grillerig en so ook gekoude broodkorsies of halwe natgekoude fizzers. Dan moet mens se mamma lappies bring asseblief!
Jou partytjie se tema was 'Jooste konstruksie'. Oral was 'danger tape', trokke en stootskrapers. Jy het met ongelooflike passie jou nr 2 koek wat soos 'n pad gelyk het met 'n hamer geslaan! Al jou gunsteling mense was hier: Nane (Carlone), jou groot tjom Ewan, Ouma Machteld, Ouma Mie (Marie) en Nico en Gerda-Marie. Daar was ander mense ook, Mamma het nie net jou gunstelinge genooi nie!
Op dinsdae gaan ons Clamber Club toe om by 'Jog the frog' te gaan kuier. Jy geniet jou gate uit daar. Op donderdae kuier jy op jou eie by Ouma Mie. Jy eet meer oats pap as Oupa en bou puzzles, stap in die tuin, lees Babbalela en dra klein duplo tassies vol denkbeeldige klein kleertjies in die gang af...Ouma se dis die wonderlikste kuiers en ek kan sien jy is altyd so opgewonde om te gaan!! Wat 'n voorreg!!
Vrydae is Ouma Machteld vroeg van die werk af, dan gaan jy en Carlone gewoonlik daar speel...laasweek het julle die sandput leeggedra en in die visdam gaan gooi :) en met julle motorfietse teen die bult afgejaag! Jy love dit!!
Roomys is nog 'n groot gunsteling, eintlik enige ding wat soet is :). Ek sien jou tweejaar selfstandigheid of wat mens dit ook al noem is hier, voel of my babatjie oornag in 'n kleuter verander het...ek geniet jou met ook so stukkie heimwee as ek besef hoe vinnig tyd verbygaan!
Comments